Hoedspruit Fun Rally

Op uitnodiging van die Hoedspruit Vliegklub het vier van ons klublede die uitdaging aanvaar om aan die Hoedspruit Fun Rally te gaan deelneem op Saterdag, 16 Julie.

Die SAPFA Fun Rally formaat werk as volg. Soos enige lugvaart navigasiewedren bestaan elke span uit ‘n vlieenier en ‘n navigeerder. Elke span kies ‘n spoed wat hulle gaan handhaaf deur die wedren. In die geval van die Hoedspruit Fun Rally was die roete ongeveer 90 NM lank en het bestaan uit ‘n beginpunt, eindpunt asook agt draaipunte tussen-in. Elke span ontvang ongeveer ‘n uur voor hulle wegspringtyd ‘n spesifieke tyd wanneer hulle by die beginpunt moet wees asook die presiese tye wanneer hulle by elke ander punt daarna moet wees, bereken op grond van hulle genomineerde spoed en die afstand tussen die punte. In die Fun Rally formaat word 15 sekondes grasie toegelaat voordat daar punte toegeken word. Alhoewel die konsep van punte verdien na ‘n goeie ding klink, is dit nie hier die geval nie. Tellinghouding is negatief, wat beteken dat die span met die MINSTE punte die wenner sal wees.

Na baie opgewondenheid gedurende die voorafgaande week, het Saterdag uiteindelik aangebreek en die vier klublede, Arthur van Niekerk en Dean Fernandez in Tecnam ZU-WOA en Neil Marx en Edrean Ernst in Cessna ZS-JXC, ontmoet mekaar om 06h30 by die vliegveld. Na afloop van al die nodige voorbereidings en aksies styg hulle op en kies koers in die rigting van Hoedspruit Siviele Lughawe. By Hoedspruit aangekom maak hulle toe kennis met die ander deelnemers en word toe kort voor lank ingeroep deur Wynand Uys, sosiale komiteelid van Hoedspruit Vliegklub, vir die inligtingsessie aangebied deur Frank Eckard en sy vrou Cally, beide met nasionale kleure in dié sport.

Die inligtingsessie, en inderdaad die hele dag, was gemik op groentjies tot die sport, en ook maar goed so. Al die detail oor die dag se gebeure wat sou volg was noukeurig bespreek en roetekaarte, fotoblaaie en vlugdata opnemers is uitgedeel. Die fotoblaaie het bestaan uit ‘n lugfoto van elke navigasiepunt asook lugfotos van bakens wat identifiseer moet word – een vir elke been tussen punte. Met identifikasie van die baken moet die posisie uitgemerk word op die kaart. Die belangrikste hier was dat, indien onseker, dit beter sou wees om eerder nie die baken te merk nie. Meer punte word toegeken aan verkeerde identifikasie as vir geen identifikasie. Verder sou daar ook aan die einde van die wedren ‘n “spot landing”-kompetisie wees met die terug land by Hoedspruit Siviel. Hierna is almal toe baie geduldig deur Cally gehelp met die behoorlike voorbereiding van hulle roetekaarte.

Kort voor lank was dit tyd om weg te spring en die roete aan te durf. Vinnig besef mens dat dit nie so maklik is as wat dit geklink het nie. Positiewe identifikasie van elke punt is soms moeilik wanneer die lugfoto nie lyk of dit mooi ooreenstem met dit wat mens uit die lug sien nie. Die skynbaar eindelose bosveld voorsien ook nie eintlik baie bakens waarvolgens daar op die kaart genavigeer kan word nie. Vlieeniers het ook vinnig uitgevind dat hulle vernuf om ‘n vliegtuig teen ‘n ongewone spoed doeltreffend te laat vlieg getoets word. Dit, tesame met die konstante navigasie om op spoor te bly en die monitering van tyd om op die regte oomblik by elke punt aan te kom, het die werkslading soms so verhoog dat daar op sommige bene nie genoeg tyd was om eers te dink daaraan om die baken vir daardie been te identifiseer nie. In ‘n oogwink was die eindpunt bereik en was dit tyd om terug te keer na die vliegveld.

Veilig op die grond en die vlugdata opnemers en navigasie logs word weer ingehandig by Frank vir evaluasie en puntetoekenning. Elke span ontvang dan by Frank ‘n uitdruk van sy werklike spoor soos opgeneem asook ‘n uiteensetting van punte verdien weens foute.

Na almal se terugkeer is die wedren oudergewoonte afgesluit deur ‘n braai en prysuitdeling waartydens elke deelnemer ‘n sertifkaat ontvang het en die wenspan ‘n geborgde prysgeld ontvang het van R1 000.

Letaba Vliegklub wil graag die Hoedspruit Vliegklub hartlik bedank vir die uitnodiging en die wonderlike en uiters suksesvolle wedren wat hulle aangebied het. Spesifieke dank gaan aan Wynand Uys, vir al sy reelings om die dag moontlik te maak, Bruce McDonald, vir sy gasvryheid, asook Frank en Cally Eckard vir hulle aansteeklike passie vir die sport wat hulle met almal kom deel het.

Leave a Reply

Your email address will not be published.